Januarie 2010 Resep ontwikkel: Grieks geïnspireerd, geurig vir SA gaste, met baie sous
1 lamsboud (2kg)
2 uie fyngekap
2 groot wortels (kwart ringe)
2 blikke tamatie (geskil, gekap)
4 huisies knoffel
2 teel gemaalde koljander
2 teel gemaalde komyn
½ teel gemaalde vinkel
1 teel fyn kaneel
2 teel suiker (bruin by voorkeur)
1 eetl suurlemoensap
2 teel gemaalde swart peper
1 teel braaivleisspeserye
1 teel tiemie
½ bottel rooiwyn (375 ml)
2 teel sout
olyfolie
Maak groente-en-kruie-mengsel in ‘n 2 liter kastrol
Braai uie en wortels in 1 eetl olyfolie oor matige hitte tot uie begin verkleur.
Voeg fyn knoffel by, braai verder tot droog.
Voeg nog ‘n eetl olyfolie by, meng goed.
Voeg kaneel, vinkel, koljander, komyn en peper by. Roerbraai vir ‘n paar minute tot mens die kruie kan ruik. Gewoonlik ‘n minuut of 2.
Voeg wyn by, meng goed.
Voeg tamaties by, meng goed en bring tot prut.
Voeg by suiker, suurlemoensap, tiemie en sout.
Plaas boud in ‘n groot braai-oondskottel met ‘n deksel.
Gooi sousmengsel oor boud, rol die boud bietjie rond om seker te maak dis oral bedek met sous.
Die boud behoort omtrent ½ tot ¾ in die sous te lê. Indien nie, gebruik ‘n kleiner oondskottel of voeg nog tamaties, wyn en water by.
Strooi braaivleisspeserye oor boud, sit deksel op en bak vir ongeveer 4-5 uur in die oond @ 120 C.
Na ‘n uur: maak die skottel oop, bedruip die boud met sous. Maak seker die boud sit nie vas aan die skottel nie. Herhaal na nog ‘n uur.
Haal die boud uit die oond uit ‘n halfuur voor ete en laat dit rus.
Om te bedien: op hierdie stadium val die vleis omtrent van die been af. Plaas dit BAIE versigtig op ‘n opdienbak sodat dit nie uitmekaar val nie. (Mens het eintlik 3 hande nodig daarvoor. Die bak moet hoë rande hê om al die sous te akkommodeer.)
Gooi soveel sous oor die boud as wat die opdienbak toelaat. Hou die res vir ‘n aparte sousbak.
Aan tafel: gebruik 2 vurke om die vleis van die been af te trek. Trek porsies vleis van die boud af.
Sit voor met met sous bo-oor.
Bykosse: rys (geelrys, rosyntjierys, klapperrys), gebakte aartappels (in die oond gebak geverf met gansvet is die heel beste), aartappelbone, kaneelwortels, brokkoli (of enige ander kool).
As mens net een groot dis op tafel wil sit, kan mens 2 uur voor opdientyd nog groente bysit: bv. sampioene, murgpampoentjies, klein aartappeltjies, wortelringe, gesnipperde selery.